Johan
Gemerk snLv Hier is nou ʼn klompie hoogs
persoonlike en onbetroubare herinnerings van ons Ouma. Ek waarsku ook sensitiewe lesers dat ek van
sterk taal gebruik maak, en mense wat fynbesnaard is moet dalk nie verder lees
nie?
Die artikels in die BURGER het haar beskryf as bonkig en knorrig. Bonkig was sy
beslis, en oor die knorrig sal ek my nou nie verder uitlaat nie. Maar sy was ʼn formidabele vrou dit is baie seker. Dit is sy wat besluit het hulle moet weg van
Tzaarskuil en die Sandveld af na Stellenbosch toe sodat haar kinders ʼn beter
toekoms kon hê. Oupa het geen grond
besit waar hulle gebly het nie en hulle het van skoolhou en konstruksiewerkwerk
doen op ander mense se plase ʼn bestaan gemaak.
Vir oupa Daan onthou ek bitter
sleg. Ek het net een herinnering van
hom. Daar êrens in 1944 of 1945 was ons
op Stellenbosch en ek en Matsie het Andringastraat gevat en geloop na die
winkel toe waar hy gewerk het. Was dit ʼn
groentewinkel? My geheue sê vir my so
… Ek het hom toe daar gesien agter die
toonbank, en hy het lekker met sy twee kleinkinders gesels wat by hom kom kuier
het; dalk nog vir ons elkeen ʼn lekkertjie in die hand gestop. So oor die 70 jaar wat verloop het heen sien
ek hom nou nog as ʼn baie oulike en gawe oupa.
Sien julle vandag twee kleuters alleen van Merrimanlaan af loop op met
Andringastraat saam tot in die middel van die dorp?
Ek sou ook raai dat Ouma die broek
gedra het in die huis dalk, soos die ou Afrikaanse uitdrukking gaan.
Soos van der Spuy ook genoem het:
een keer per jaar het sy die trein gevat in die wintermaande en dan seker so ʼn
maand by ons kom bly, en ook in Colesberg, en dan het sy ʼn hele ruk in Pretoria
gebly. En sy het haar “favourites” gehad
hoor. Enige kleinkind wat vernoem was na
oupa Daan het meer aandag by haar gekry.
Broer Danie was “Ouma se ou dun nekkie” gewees. As jou naam Daan/Daniël/Danie was, dan was
die saak reg!
Sy en haar skoonseuns: as sy by ons
gekuier het het sy lank en breed gesels.
Oor alles, en natuulik het sy ook vertel van die doen en late van haar
ander skoonseuns. Altyd in bewonderende
terme. Dit was “Tossel” en “Johann” en
“Carl” voor en agter. Ek self het gesien
hoe oom Johann haar terg en hoe sy dit geniet.
Sy het so ʼn uit-die-maag lag gehad, “giieeee-giiieeee-gie”.
Wanneer sy daar aankom op pad terug van
Pretoria af het sy natuurlik baie stories gehad oor die Hattinghs. En ek onthou hoe sy een keer gepraat het oor
oom Carl, en toe sê sy, “Maar oor sy ondervindings in die oorlog, daaroor praat
hy nooit niks. Nooit … niks.”
My pa was om een of ander rede nie
haar “favourite” skoonseun nie. Dit is
snaaks hoe selfs jong kinders ʼn “vibe” kan optel. En tussen Ouma en my pa was daar ʼn negatiewe
“vibe” wat ek al klein-klein bewus van was wat moes terug strek tot voor ons
geboortes; dalk nog tot voor my pa en my ma se troue in 1938. My pa het hard geprobeer om dinge te
normaliseer. Maar as hy ʼn grappie maak
met haar dan kry hy ʼn skewe kyk; anders as by oom Johann.
Wat dinge vererger het was die insident met
Danie en Marie se geboorte. Dit was in
1945 en dinge was ontwrig weens die oorlog.
Toe die twee gebore is toe gaan my pa na die poskantoor in Indwe en
stuur telegramme aan almal om die aankoms van die tweeling aan te kondig. En soos die duiwel dit wou hê: Ouma het nie
haar telegram gekry nie. En sy het tot
haar dood vas geglo dat my pa opsetlik was en nie vir haar laat weet het
nie.
Hy het op ʼn stadium na die
poskantoor toe gegaan en een of ander skriftelike bewys gekry dat daar wel ʼn
telegram afgestuur is na haar. Sy het
dit pleinweg net nie geglo nie. Selfs
die feit dat die tweeling na haar en haar man vernoem is het niks gehelp
nie. By die “knorrigheid” dink ek het sy
dalk ook ʼn skoot “koppigheid” ook gehad?
Ek self was die oorsaak van nog ‘n
verdere afbreek in hulle verhouding: my pa het een keer gegaan na die Kaap vir
ʼn sinodesitting en hy het my saamgevat.
Ek weet nie hoe oud ek toe was nie.
Seker maar 3 jaar of daar rond.
Nou ry ons 2 dae met die trein van Ida af tot in Stellenbosch. Ek bly
die hele dag alleen by Ouma, en my pa gaan met die trein vir die Sinode. Agterna het hulle gesê die hele ding was ʼn
fout want ek was onmoontlik stout gewees.
Ek wou nie die hele dag alleen gelaat gewees het met die vreemde ouma
nie. Dan kom my pa die aand by die huis,
en dan vertel Ouma in detail wat ek alles gedoen het en al my “tantrums” en so
en sy eis dan dat hy my ʼn pak gee. Wat
hy nie wou doen nie, heel tereg ook. En
dan het Ouma haar kop geskud en vir my pa gesê, “Eli, Eli …..” Nou ek kan goed glo dat daardie ge-“Eli, Eli
…..” elke aand vir hom synde ʼn predikant mateloos moes ge-irriteer het.
Sy is oorlede in 1957. Toe sy nou naby die einde was toe kom Tannie
Marie en Ria en Hannes van Pretoria af.
Nou lê Ouma daar en sy roep vir Marian.
En sy sê vir haar: “Ria en Hannes kom by ons bly van Pretoria af. En hulle is baie soet kinders. Jy moet jou nou mooi gedra by hulle”. En Marian sê, “Nee, ouma, ek sal baie soet
wees. Ek sal nie kak sê by hulle
nie”.
Tannie Etha vertel agterna nog hoe
Ouma met haar swaar lyf en met haar maag deurtrek van die kanker geskud het van
die lag. Vir oulaas was dit toe, “giieeee-giiieeee-gie” gewees.
Terug na die Huisblad
Terug na die Huisblad
No comments:
Post a Comment