Wednesday, March 4, 2015

Die ou bleddie Sap

Johan


Dit is Desembermaand van die jaar 1968.  Dorea en Acker trou op Colesberg een Sondag na kerk.  Nou is ek daar vir die geleentheid en my pa, en ek weet nie wie nog van my broers nie.  My ma en die res van die familie het by die huis agtergebly op VanWyksvlei.

Sover ek onthou het ons seker die Vrydag daar aangekom en ons het almal in oom Johan en tannie Baby se huis gebly naby die bopunt van die dorp.  Dié huis het soos baie van die huise daardie tyd ʼn lekker stoep gehad wat om drie kante van die huis gegaan het.

Acker se pa was ʼn LV gewees.  Een van die 6 LV’s uit Suidwes wat in die parlement gesit het, en daardie LV’s uit Suidwes was almal Nasionaliste.  Oom Johan het natuurlik dit geweet; maar was oom von Moltke níé geweet het nie, was dat oom Johan ʼn Sap was.

Nou toe ons op Colesberg aankom, toe sit die twee ooms op die stoep en gesels.  En het hulle nie gesels nie: lank en breed en afgemete het hulle baie onderwerpe opgehaal en aangeraak en deurgetrap, soos die mense van hulle generasie mos graag gedoen het.  Ek sit maar op ʼn ander stoel so ʼn ent van hulle af met ʼn boek en mens kan nou nie help om te hoor waaroor al die geselsery gaan nie.

Naderhand was dit aand, en almal gaan eet en gaan slaap, maar die Saterdagoggend was dit weer so.  Hulle praat oor kerk, en oor boerdery, en oor die land se politiek, en albei haal aan uit hulle ryke ervaring uit ʼn verlede wat ʼn klomp jare terug gaan.  Sover ek onthou het oom Johan teen die laat middag homself verfris met ʼn whisky.  Wat oom von Moltke geniet het weet ek nie meer nie.

Nou hier teen die late (soos die mense daar mos praat) die Saterdag los oom Johan toe die bom, “Ek sou nooit dit gedink het dat ʼn dogter van my sou trou met die seun van ʼn Nasionalis nie!”

En oom von Moltke het net ʼn halwe sekonde nodig gehad toe val die pennie by hom, “My magtag!  Jy wil nie nou vir my sê jy is ʼn ou bleddie Sap nie!”  

Toe dag ek nóú is die vet in die vuur.  Maar snaaks genoeg, toe die feite ingesink het, het nie een van die twee weer daarna verwys nie, en het hulle doodrustig verder aangegaan met hulle gesprek.


En die volgende dag het my pa in eenstemmigheid vir Dorea en Acker bevestig.



Terug na die Huisblad

No comments:

Post a Comment