Friday, February 27, 2015

Ria se fotos



Oom Carl en tannie Marie


Ria en Nico!


Ria en Marie


Onbekendes, help asseblief





Terug na die Huisblad

Tuesday, February 24, 2015

Ouma Totsiens ...

Leon en Dorea

Voorwoord: Die juweel is deur Dorea gestuur. Die brief wat sy van die skoolraad ontvang het waar sy eerste skool gehou het. Leon het dit ontsyfer en versorg. Soveel dankies Leon en Dorea. Dit is 'n juweel!

Plek en tyd onseker. Kan iemand help?

Dit vertel ALLES. Alles oor wie ons is en waar ons wortels was. 


En zoo is dan eindelyk den treurige dag aangebroken, dat wy als leden der School Comitee, en ouders der School gaande jeugd, van u als onderwyzeres afscheid moeten nemen.

Vergun ons dan als leden der School Com, om namens dese ouders der school gaande kinderen, onze hartelyke dank betuiging aan u toe te brengen voor uwe getrouwe diensten als onderwyzeres aan ons betoond gedurende uw 5 jaren verblyf onder ons; Ofschoon het ons van harte leed is dat gy als onderwyzeres ons gaat verlaten kunnen wy niets nalaten om onze hartelykste en innigsten zegen toe te wenschen in uwe verdere loopbaan.

Gy hebt u als vreemdeling 5 jaren onder ons gevestigd tot het onderwyzer der jeugd, en hebt met veele moeijilykheden te kampen gehad, doch niet tegenstaande dit alles was uw arbeid niet te vergeefs;  Het heefd zoo een eer behaald dat wy niet kunnen nalaten u ons hulde te brengen, uw scheiden uit ons school zal door ons allen zeer gemist en betreurt worden, niet alleen in de school maar uw omgang met ons buiten school is door oud en jong geprezen;

Ontvangt dan deze geringe geschenk als een blyk van achting en aandenking, namens uw nooit vergeetende vrienden en Leden der School Comitee

                                                                                                JH Ehlers, M Brink, FV Smit

Terug na die Huisblad

Tuesday, February 17, 2015

'n Tweede huis

VDS


Om op 16 vir altyd weg te gaan van jou ma en pa het sy uitdagings. Ons klein dorpie outjies moes dit doen en toe al die lewe alleen aangryp.

Tel maar die dae tot ou weer op die trein kon klim en die dag lange reis na die Noordweste aan te pak.

As jy jonk is, is jy ook kwesbaar en baie dinge kan verkeerd gaan. Byvoorbeeld, hoe werk mense knope vas?

Van die begin was daar vir ons Bon Ami, Bellville en Strand. Alles met tiekiebokse georganiseer!

Tannie Frieda het my korrek as 'n nerdie outjie geklassifiseer en ek moes naweke van haar sootgelyke skoliere ontmoet. Ek en een so 'n ou is nou nog in kontak!

By oom Tossel en tannie Etha in die Strand was dit net altyd hemel. Die oom het my ook skelm ingelyf met my eerste sopie witwyn!

Bon Ami, die plasie daar buite sal altyd spesiaal wees.  Tannie Dora se liefde sal ons altyd onthou.Toe ons kleiner was het oom Cyril ons "Japies" genoem. Sy Afrikaans was maar beperk tot hy van "Plaasjapies" gehoor het!  Hy het ook in 1960 gaan kampeer voor die stadsaal om in die referendum "Ja" te gaan stem. Ou Walisser,  "I always wanted to vote against the English!"

Toe kom die vreeslike skuif na die verre Noorde en die naweekpasse. Net een plek om te gaan, Mancelaan 838! Liefde, omgee en rondwys. Tannie Marie en Oom Carl het in onseker tye 'n tweede ma en pa gewees.

Oom en Tannies, julle merk op ons was so uniek en so spesiaal!

Terug na die Huisblad




Monday, February 16, 2015

Ou grafte en woonhuis

Nico

Die een foto is van ons oupagrootjie Dirk Brink. Bossie ek dink jou pa het sy naam gekry. Ek en Johan het na heelwat gesukkel sy verlate graf teenoor die pad langs die vervalle plaashuis van Tzaarskuil gekry. Hy is nie begrawe in die Brink begraafplaas op Drommelvlei soos alle die jare verkeerdelik aan my vertel is. Hy was getroud met Johanna van der Spuy Brink: Van der Spuy ek is seker jou ma is na haar vernoem.

Agter die graf is daar ’n holte in die sand waar vroeër ’n graf kon gewees het. Hierdie raaisel word opgelos as ons na die De Wet oupagrootjie se graf op Tulbagh kyk. Ons oupa grootjie, Jacobus Johannes De Wet, bynaam Koos Trippelaar ( hy was mank) was die herbergier by Paddagang op Tulbagh waar ons ouma Maria groot geword het. Sy vrou was Dorethea Elizabeth Du Plessis en is een van ons oumagrootjies.

Billy: jou ma is na haar vernoem. Jacobus sterf in 1912 en laat ’n deel van Paddagang (plot) aan Daniel wat in 1909 getroud met Maria (ons ouma). Daniel het geboer op Tzaarkuil ( hy was nie die eienaar soos ook verkeerdelik aan my vertel is). Ouma Maria het skool gegee in die huis waar hulle gebly het. Hulle het waarskynlik mekaar hier ontmoet. Na 1912 gaan bly Dorethea by haar dogter op Tzaarskuil. (Die ander kinders was in die Transvaal en Ant Dora het dalk nie huisvesting gehad nie.)

Die ander dogter was Gertruida Johanna. Ek het ’n pragtige foto van haar. Tannie Marie het ’n kombers van haar ge-erf en geskenk aan ‘n museum. Sy was ʼn onderwyser in die konsentrasiekampe en sterf van tering. Sy is begrawe in die helde akker in Pretoria. Ek en my ma het een keer wel die graf gekry. Nou is dit nie meer daar (dalk toegegroei). Dit bly ’n raaisel waarom Tannie Baby na haar vernoem is en nie ons ouma Maria. Tannie Marie het wel haar naam gekry.

My ma se naam, Margaretha Susanna kom van die Du Plessis kant.

Terug na die graf: Oumagrootjie Dorethea Du Plessis sterf in 1920 op Tzaarskuil en word in die klein begraafplaas begrawe naby Dirk se graf. Dit moes blykbaar die De Wette onstel het want sy is opgegrawe en weer begrawe langs haar oorlede man, Jacobus De Wet, in Tulbagh. Heel waarskynlik was oom Pieter en oom Kosie die dryfveer.

Danie bevestig dat tannie Dora (nie Ant Dora) vir hom vertel het dat sy as jong dogter ʼn lyk deur ’n gaatjie in die kis op die solder van Tzaarskuil gesien het. Dit is nou duidelik dat dit haar eie ouma was. Oom Pieter se as is later bygevoeg tot die Tulbagh graf en ’n nuwe grafsteen word opgerig, waarskynlik deur oom Kosie en Ant Dora. Ant Dora se eerste kind is ook daar begrawe. Tannie Doreen was die tweede kind. Die graffie is ook nou weg na die verspoeling.

Ouma grootjie, Johanna Van Der Spuy sterf in 1922 en word langs Dirk begrawe. Kort daarna verlaat oupa Daniel die plaas (my ma is in 1923 gebore op Tzaarskuil). Hy verkoop die plot in Tulbagh en koop die huis in Stellenbosch waarvan al die kinders op Stellenbosch studeer vir grade of diplomas.


Die laaste foto is die vervalle Brink-huis waar al ons Mas en Bossie se pa gebore was. Ouma het ook hier skool gehou.


Ouma en Oupagrootjies



En die ene in Tulbach

Tsaarskuil se huis

Ouma en Oupa in Stellenbosch







Terug na die Huisblad

Friday, February 13, 2015

Lewensjuwele

Danie


Hier in die middel van die 1960's ry tannie Suster en tannie Etha al die pad Vanwyksvlei toe met die blou Peugeot bakkie.

Daar was 'n padverlegging en hulle land per ongeluk in Ceres. Hulle ry toe maar met die Ceres – Karoo pad tot in Calvinia (sinkplaat en stof). Van Calvinia tot in Williston weer teerpad, maar in plaas van aanhou tot in Carnarvon, draai hulle 'n paar myl buite Williston af want daar was 'n aanwyser wat die pad na Vanwyksvlei aangewys het. 

Die pad loop van plaas tot plaas met hekke vir omtrent 120 myl. Die twee tantes was gaar en gedaan toe hulle uiteindelik op Vanwyksvlei kom!

Ek was een van diegene wat militêre diens in Pretoria gedoen het. Sommer die eerste Sondag het die Hattinghs kom kuier. Na 2 – 3 maande het ons naweek pas gekry. (Saterdagmiddag tot Sondagaand.) Ek het gereeld na Tannie Marie en oom Carl gegaan. Tannie Marie het feesmaaltye berei en nog my klere ook gewas. As ek 'n “pas-naweek” oorgeslaan het, moes ek die volgende keer verduidelik hoekom en waarom en sal nie weer nie.

Acker en Dorea se troue, die aand voor die troue vra iemand vir Acker of hy darem gereed is vir die groot sprong. Sy antwoord was, "Ja, ek het my kar geghries en my skoene versool!"

Die oggend in die kerk, kniel die paartjie voor die kansel. En so wragtag, die mooiste paar blou skoensole wat jy en nog ooit gesien het!

Die vier Brink-broers ry een nag op die pad tussen Brandvlei en Vanwyksvlei. Maanloos. Doodstil. Miljarde sterre. Maar ons kry 'n papwiel. Terwyl ons rustig die wiel omruil, hoor ons 'n gedruis en gekletter wat al harder word. Toe die ligte verskyn, besef ons dis 'n motor. Die kar ry tot by ons en stop met 'n gesissss ... net 'n Citroen kan dit regkry! 

Die bestuurder was Boet Ferreira wat sommer 'n bietjie gesels ook.



Na 'n tyd sê hy, “julle moet my nou maar verskoon, want dis nog 'n entjie na skoonmense se plaas. Daar is nog hoeveel afvalle en skaapkoppe wat ek moet opeet voor sonop.”

Terug na die Huisblad


Thursday, February 12, 2015

Oom Carl en tannie Marie se paadjies kruis ...

Ria Pieterse



My pa Carl en ma Marie se ontmoeting het my altyd gefassineer. 



Ek het dit natuurlik kortstondig vergeet, maar my eie herinneringe en neef Johan se hulp het my weer laat onthou.

Hoe HET hierdie 28-jarige padbouer/soldaat uit die Oos-Kaap en die 20-jarige onderwyseres uit die Wes-Kaap mekaar ontmoet?

My oom Hermaans Hattingh, later ‘n bees- en tabakboer in die destydse Suid-Rhodesië, het blykbaar by Tannie Suster gekuier. Op ‘n stadium het my pa saam met oom Hermaans gegaan en my ma ontmoet. Oom Hermaans en Tannie Suster het nie uitgewerk nie, maar my ma en pa het.

En die beste toeval in die wêreld: Toe oom Jan in die veertigerjare ‘n kombinasiebediening in die Oos-Kaap gehad het, het hulle elke tweede naweek in my pa se huis op Cala oorgebly. Nie geweet dat my ma en pa mekaar geken het en in 1948 sou trou nie.

Terug na die Huisblad 



Wednesday, February 4, 2015

Eendag was daar 'n hond ...

Die doel van diere is om die mens uit die mens uit te bring ...

Hy was maar alleen, die introvert wat sommer in die straat hard met hom self loop en praat het.

Ook die slagoffer van die tyd waarin hy moes leef en die niemandsland tussen die Bloedsappe en die Natte moes oorleef.

Elke maand kry hy skelm so 'n bruin koevert, Rooi Rose gemerk. Binne in, "Pro Veritate" van sy groot vriend Beyers Naude ... toe die middernagtelike Valiant wat kom stop en aan die deur kom hamer, Buro van Staatsveiligheid ...

Hy preek tot vyf keer op een Sondag. Werk nagte om by kerslig en skryf dit woord vir woord uit. 

Eers ons, dan oor na die Sendingkerk. Vanaand weer twee keer en tussen deur by die gehate Wederdopers. Die mense se pastoor woon in De Aar en jy sien hom nooit. Die Ring spreek hom ernstig aan, "Dominee, dis 'n sekte!"

Toe kry hy vir Stompie en niks was ooit weer dieselfde nie. Sekere woorde het ons altyd Engels moes praat sodat Stompie nie idees kry nie. Woorde soos "food", "sleep", "dried meat" en die ergste van almal was "walk"!

Stompie het huisbesoek gedoen, hy het die kerkraadsvergadering gelei en as jy hom nie Sondae toe gesluit het nie, het hy in die middel van die diens die kerk binne gestorm en die kansel trappies opgehardloop. As die oom koster die kerkklok lui het Stompie alles gelos in tussen die twee torings staan en huil!

Stompie was etlike kere Strand toe en by Tannie Etha en die plek op horings geneem. 

Hy slaap op die bed en presies 03:15 het hy 'n nood en jy sal uitstrompel en buite staan in die bittere koue.

Stompie was sy vriend deur alles heen en later hom vooruit na die Hondehemel.

'n Paar jaar na die begrafnis maak Ma 'n bottel Grand Moussueax oop, "kom ons drink op hom want  ... Salig is die Sagmoediges ..."


(gaan loer ook gou by Wikipedia)

Terug na die Huisblad