Monday, September 28, 2015

Die Fliekflooi

Pierre de Wet was 'n ware pionier



Pierre de Wet, wat in die vroeë jare dertig byna man-alleen geveg het om 'n Afrikaanse rolprentbedryf op die been te bring, is in 1990 oorlede.

''Ek kan eerlik sê dat ek nooit ter wille van geld Afrikaanse rolprente gemaak het, maar omdat my mense honger was om hulle eie taal in die bioskoop te hoor.'' 

Met dié woorde uit 'n onderhoud van 1984 som Pierre de Wet, die 'vader' van die Afrikaanse rolprentbedryf, wat in die ouderdom van tagtig jaar oorlede is, sy lewensideaal op. Afrikaanse rolprentgangers sal baie van De Wet se 21 rolprente met nostalgie - of met 'n glimlag - onthou: Dr. Twak, Simon Beyers, Oupa en die plaas­nooientjie, Nooi van my hart, Kom saam vanaandAltyd in my drome, Vadertjie Langbeen. Min mense besef egter hoe swaar dit vir De Wet was om die Afrikaanse rolprentbedryf byna man-alleen op die been te bring. Dit was 'n bedryf wat met karige middele teen die ryk en gesofistikeerde Amerikaanse en Britse rolprentwese moes meeding, en wat die verguising van kieskeurige Afrikaanse bioskoopgangers gevolglik by al sy ander probleme moes verduur. 



Pierre de Wet se loopbaan reik terug na die heel eerste Afrikaanse klank­rolprent: Moedertjie (1931), waarin hy een van die vyf hoofrolle gespeel het.  Vir sy spel in dié prent het hy ook die eerste Afrikaanse rolprentprys ontvang – 'n erepenning van die destydse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns.  Ondanks dié sukses het De Wet in 1932 besluit om na Londen uit te wyk, want in die jare dertig was dit prakties onmoontlik vir 'n Afrikaanse toneelspeler om 'n bestaan in sy eie land te voer. 

Toe die oorlogswolke in 1939 oor Engeland saamgepak het, het Pierre de Wet na Suid-Afrika teruggekeer.  En met sy terugkeer het sy groot stryd begin - 'n stryd wat in 1961 geëindig het toe hy sy laaste rolprent, En die vonke spat, voltooi het.  Aanvanklik het hy hom by André Huguenet se toneelgeselskap aangesluit. Die twee toneelspelers het mekaar egter kort-kort in die hare gevlieg. Huguenet was 'n outokraat wat geen teenspraak kon verduur nie, en De Wet 'n kunstenaar met sy eie koppige idees.  Hy het gevolglik sy eie toneelgeselskap gestig - en uit dié geselskap het sy eerste rolprent, Pikkie se erfenis (1945), ontstaan. In die onderhoud van 1984 sê De Wet dat dié rolprent, wat met so baie swaarkry en so min geld gemaak is, as die geboorte van die Afrikaanse rolprentbedryf beskou kan word. Pikkie het geesdriftige skares gelok, want vir die Afrikaners van daardie jare was dit wonderlik om 'n rolprent in hul eie taal te hoor.  Dié sukses het De Wet in staat gestel om die destydse mense met die geld te oortuig dat die Afrikaanse prent inderdaad 'n goeie belegging kan wees. 

Die miljoenêr I.W. Schlessinger, eienaar van die Killarney-ateljee in Johannesburg, is na 'n vertoning van Pikkie in Germiston se stadsaal genooi: ''U hoef nie na die rolprent te kyk nie: hou net die gehoor dop,'' het De Wet by die magnaat gepleit. Schlessinger het egter skepties gereageer. Maar hy het darem die hoof van die Killarney-ateljee, Joseph Albrecht, gestuur om die kat uit die boom te kyk. Albrecht kon as 'n Londenaar skaars 'n woord Afrikaans verstaan. Die Germiston-gehoor se reaksie was egter al wat nodig was om hom te laat besef: die Afrikaanse rolprent is 'n gans wat goue eiers gaan lê. Só het dit gebeur dat geld vir die eerste keer vir Afrikaanse rolprente beskikbaar gestel is. En Pierre de Wet is aangestel as die eerste beroepsvervaardiger van Afrikaanse rolprente. 



VIR 'n salaris van R140 per maand moes De Wet sy eie draaiboeke skryf, sy eie regie behartig, met die haglikste toerusting werk en boonop 'n rol in sy eie rolprente speel. Maar sy geesdrif het geen perke geken nie: nou het hy 'n regte ateljee gehad en kon hy vir die eerste keer doen wat hy wou. Sy stryd het egter pas begin, want om elke hoek en draai het teenstand en probleme op hom gewag. Uit Afrikanergeledere was daar die beswaar dat hy 'n 'inkruiper by volksvreemdes' geword het deur hom by die  Schlessinger-organisasie aan te sluit.  

Die preutsheid van sy Afrikaanse publiek het ook beteken dat die geringste kragwoord in 'n rolprent taboe was, en dat byvoorbeeld 'n toneel waarin 'n drankie gedrink of messe gebruik word, uit die bose was. Geen Afrikaanse skrywer wou hom gevolglik aan 'n draaiboek waag nie.  De Wet het die skrywer Sep Smit (skuilnaam van Johan van der Post) R500 vir 'n draaiboek aangebied, maar Smit het glad nie belanggestel nie. Hy kon £100 voorskot vir 'n gewone boek kry, en dan kon hy sy karakters boonop laat doen wat hy wil!  De Wet se eie draaiboeke, waarvoor sommiges later hul neuse sou optrek, was gevolglik sy enigste uitweg. Akteurs was ook 'n yslike probleem. Spelers moes sommer op straat aangekeer word, want daar was eenvoudig niemand met ervaring van rolprentwerk nie. Dié amateurspelers het bedags hul gewone beroepe beoefen en was slegs saans en naweke beskikbaar. Net Al Debbo kon in die week na die Killarney-ateljee kom. 

''Die Afrikaanse rolprentbedryf moes sy werk op Sondae, Paasmaandae en Goeie Vrydae doen,'' vertel De Wet in die onderhoud uit 1984. 
Geskille met sy 'volksvreemde' base het ook nie uitgebly nie. Dit was die tyd toe God Save the King ná elke rolprentvertoning voorgespeel is, en De Wet het geweet dat dit sy Afrikaanse publiek geweldig omkrap. Hy het Schlessinger daarop gewys dat dit goeie besigheidsin maak om hierdie gebruik by Afrikaanse rolprentvertonings te staak, maar sy baas wou niks weet nie.  Schlessinger was egter wél slim genoeg om te besef dat die 'volksvreemde' geld agter die Afrikaanse rolprent 'n bietjie verdoesel moes word. Sy maatskappy is gevolglik Die Afrikaanse Rolprentmaatskappy genoem en 'n Afrikaner, dr. Jan Pienaar, is in die  raad aangestel. Dr. Pienaar sou egter 'n nuwe doring in Pierre de Wet se vlees word ... 



Met die vervaardiging van Kom saam vanaand wou De Wet byvoorbeeld 'n ballet-toneel invoeg. Dr. Jan het egter 'n stokkie voor dié plan gesteek, met die argument dat 'manlike bioskoopgangers tot naby die doek sou aanskuif om onder die danseresse se rokke in te kyk'.  Die Londenaar Joseph Albrecht het sy eie stuiwer in die armbeurs probeer gooi. Hy was ontevrede omdat Afrikaanse karakters aandpakke in De Wet se rolprente dra, want 'aren't all Afrikaners diggers?' 

''Is genl. Smuts 'n delwer? Is dr. Malan 'n delwer? Dra genl. Smuts en dr. Malan baarde en veldskoene?'' wou De Wet weet, en uit pure verontwaardiging het hy bedank. 



DIT het baie soebat gekos om Pierre de Wet vir die Afrikaanse rolprentbedryf terug te wen. En 'n rolprent oor Afrikaanse delwers het hy nooit gemaak nie, al het daar later 'n draaiboek gereed gelê. In die onderhoud van 1984 sê De Wet: ''Dit is my vreugde om te weet dat ek my groot ideaal verwesenlik het.'' Niemand se lewe kan op 'n gelukkiger manier as dít tot 'n einde kom nie.

Bron: Aangepas van http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1990/06/29/3/9.html, 'n artikel in Beeld waarin Etienne Britz hulde bring aan diê legendariese rolprentregisseur, vervaardiger en skrywer