Saturday, March 7, 2015

“Andora”

Johan


Geen stel herinnerings is volledig sondat dat daar melding gemaak word van ant Dora nie – die laaste van die de Wets.  Die spelling hierbo is dié van ʼn niggie van ons, in haar baie prille jeug toe sy seker omtrent in haar 2de jaar op laerskool was.

Nou wat weet ek van ant Dora?  Oom John was ʼn posmeester in Rondebosch (as ek reg onthou).  Hulle het daarheen getrek uit Elliot in die Oos-Kaap; presies wanneer hulle getrek het weet ek nie, maar om een of ander rede dink ek dit moes gewees het in die 1930’s.  En hulle was maar altyd daar: eers ant Dora én oom John, en toe na oom John oorlede is ±1960, net ant Dora.  

Hulle “teenwoordigheid” ervaar ek self nog elke dag, hulle het toe my pa en my ma getrou het in 1938 as ʼn trougeskenk gegee ʼn lang bank waarvan die rugleuning kan sak en dan kan mens slaap daarop, en twee bypassende Morris-stoele.  Dáárdie einste 3 meubelstukke staan vandag nou hier in my sitkamer in die aftreeoord waar ek woon.  Amper 80 jaar oud.

Ant Dora was ʼn grande dame.  ʼn “Lady”.  Mens het so geleidelik uit haar praat agtergekom dat hulle baie aktief was in die kulturele aktiwiteite van die Afrikaanse gemeenskap in die Kaap – goed soos die Koffiehuiskonserte en so aan.  En seker ʼn snob ook, hoe dan nou anders?  Maar ek hou dit allermins teen haar, want wie van ons is nie?  

Daarmee saam was haar voete plat op die grond.  Sy het byvoorbeeld baie gehou van haar glas wyn, maar dan móés dit absoluut soet wyn gewees het.  Daardie jare het mens mos Riesling en Stein wit wyn gekry.  Sy moes ʼn glas Stein – of verkieslik Late Harvest – hê want die Riesling was “suur”.  Rooi wyn was pleinweg net “sleg”, en klaar gepraat. 

Een onvergeetlike aand was die aand toe almal gaan eet het die Sondag in die Lanzerac vir van der Spuy se 21ste.  Die Lanzerac het daardie tyd ʼn reuse buffet-ete gehad Sondagaande waarvoor jy maande voor die tyd moes bespreek.  Ons het toe ook almal gesorg dat Lanzerac se spyseniering nie veel van oorgebly het nie.  Maar toe almal uiteindelik loop, toe is ant Dora half weg in die donkerte.  Totdat iemand haar sien: sy staan toe by die slaweklok voor die hotel en sy is met mag en mening besig om die ketting daarvan te trek!

Soos dit ʼn grande dame betaam, het sy ʼn lekker streep ydelheid ook in haar gehad.  Niemand het amptelik geweet hoe oud sy was nie.  Ons het soort van vermoed een of ander tyd dat sy nou die 80 moes geslaan het.  Ook hardhorend, of voorgegee dat sy meer doof was as wat sy werklik was.  

Een Sondag by Diazstraat toe sit sy in die voorhuis en van ons is in oom Tossel se garage besig met iets.  En iemand noem haar naam.  Nou al wat ek kan dink is dat die klank moes uit die garage bo-oor die binnemure van die huis gegaan het deur die plafon.  Maar hoor het sy haar naam gehoor.  Want die volgende wat óns hoor was: “wat sê julle daar van my?”

En, voordat ek dít vergeet ... sy het baie gehou van ʼn skewe grappie.


Terug na die Huisblad



No comments:

Post a Comment