Tuesday, May 19, 2015

Seven Single euwels

VDS


Dan was daar die dierbare Oom Cyril. Sy Afrikaans was maar geraadbraak, en ons outjies uit die diep platteland met vrees vervul. Bon Ami was tog vreugde al die pad, solank die oom net nie met jou praat nie.

Al woord wat hy gebruik het was "Japie". Het iewers van "plaasjapies" gehoor! "Good morning Japies!" en ons moet antwoord maar weet nie hoe nie. Ai tog ...

Hy is een van 'n handjievol wat die Gote en Hunne in beide gevegte trotseer het en die ondersprit laat delf het. Soveel stories ...

Bon Ami was 'n tweede tuiste uit die koshuis en die Lugmagbasis. Bel met die tiekieboks, ry met die trein tot in Kuilsrivier en word soos 'n koning behandel.

Toe moet die nasie mos stem in 1960 of ons wil afstig van die Koninkryk. Oom Hendrik sweep ons op. Daardie aand voor stemdag sit die oom op 'n kampstoel voor Kuilsrivier se stadsaal. Die deure swaai oop sewe uur die volgende oggend, hy storm in en trek sy kruisie, "JA!!!" 

Sy verduideliking so eenvoudig, "ek kom van Wallis en wou nog altyd teen die Engelse gestem het!"

Maar niemand is onskuldig nie, oo nee! Toe Billy se tienerjare nader kruip, kom die 60's rock stars natuurlik ook Bon Ami binne. Billy speel dan dieselfde seven single luidrugtig oor en oor. Als kom tot 'n punt, skielik vlieg die oom op, pluk die naald van die plaat, ruk dit met een handbweging af en breek in vele stukkies!





Hardebaard en die skooldogter

Dorea


Die September-vakansie van die jaar waarin my ma 17 geword het, het sy saam met `n vriendin na hulle huis in Darling  gegaan. Vir `n paar dae was hulle ook see toe.

By die see het hulle vriende raakgeloop en die vriendin was skynbaar redelik kortaf met die een ou. My ma het vertel dat sy hom baie jammer gekry het. Terug op Darling het hulle hom weer raakgeloop, want hy was die hoefsmid/wa-maker op die dorp. Eers was dit net`n vakansie-romanse maar na die vakansie het daar `n paar  briewe gevolg en kort voor lank was dit `n regte romanse.
Ek  kan my indink wat Oupa en Ouma se gevoel oor die verhouding was. Dat daar seker  harde woorde ook was, kan `n mens glo, want my ma was 17 en my pa was 28! (En nog van die verkeerde politiek ook! Maar dit het ek baie jare later eers uitgevind, want daar was nooit politiek in ons huis gepraat nie.)

Van verder leer na matriek, wou my ma niks weet nie.Verpleging was die enigste opsie wat sy gehad het waar sy `n opleiding kon kry terwyl sy `n salaries verdien het.Sy kies toe om by Valkenburg te gaan werk, want daar kon sy drie pond per maand verdien, terwyl sy net twee pond by `n gewone hospital sou kry.

In September 1935, drie maande voordat sy haar finale eksamen sou skryf, is my pa en ma getroud. Van al Oupa en Ouma se slim kinders, was sy die enigste wat niks agter haar  naam kon skryf’ nie. Ek is seker dat sy later jare baie spyt was dat hulle nie maar gewag het totdat sy haar opleiding voltooi het nie, want sy het dikwels gevra of een of ander persoon darem ' `n bietjie geleerdheid’ het.
Om een of ander rede was daar geen troufoto geneem nie, maar Johan ken iemand wat na al die jare nog die kussinkie het waarop hulle gekniel het.

 My ma dikwels vertel hoe tannie Joey haar trourok gemaak het. Die materiaal was vreeslik duur, dit het tien sjielings gekos!  In die Kaap was daar daardie tyd `n baie  beroemde  kleremaakster  wat die materiaal sommer so teen mense gedrapeer het en dan  die rokke so teen hulle lywe gesny het sonder enige patroon en so het tannie Joey dan die rok gemaak! Dit moes vir haar`n baie mooi rok gewees het, want sy het dit `n paar maal vertel.


Ten spyte van hulle groot ouderdoms-verskil, was my ouers deur die jare steeds baie lief vir mekaar en ek glo nie daar kan baie gelukkiger huwelike wees as wat hulle s’n was nie.