Monday, September 28, 2015

Die Fliekflooi

Pierre de Wet was 'n ware pionier



Pierre de Wet, wat in die vroeë jare dertig byna man-alleen geveg het om 'n Afrikaanse rolprentbedryf op die been te bring, is in 1990 oorlede.

''Ek kan eerlik sê dat ek nooit ter wille van geld Afrikaanse rolprente gemaak het, maar omdat my mense honger was om hulle eie taal in die bioskoop te hoor.'' 

Met dié woorde uit 'n onderhoud van 1984 som Pierre de Wet, die 'vader' van die Afrikaanse rolprentbedryf, wat in die ouderdom van tagtig jaar oorlede is, sy lewensideaal op. Afrikaanse rolprentgangers sal baie van De Wet se 21 rolprente met nostalgie - of met 'n glimlag - onthou: Dr. Twak, Simon Beyers, Oupa en die plaas­nooientjie, Nooi van my hart, Kom saam vanaandAltyd in my drome, Vadertjie Langbeen. Min mense besef egter hoe swaar dit vir De Wet was om die Afrikaanse rolprentbedryf byna man-alleen op die been te bring. Dit was 'n bedryf wat met karige middele teen die ryk en gesofistikeerde Amerikaanse en Britse rolprentwese moes meeding, en wat die verguising van kieskeurige Afrikaanse bioskoopgangers gevolglik by al sy ander probleme moes verduur. 



Pierre de Wet se loopbaan reik terug na die heel eerste Afrikaanse klank­rolprent: Moedertjie (1931), waarin hy een van die vyf hoofrolle gespeel het.  Vir sy spel in dié prent het hy ook die eerste Afrikaanse rolprentprys ontvang – 'n erepenning van die destydse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns.  Ondanks dié sukses het De Wet in 1932 besluit om na Londen uit te wyk, want in die jare dertig was dit prakties onmoontlik vir 'n Afrikaanse toneelspeler om 'n bestaan in sy eie land te voer. 

Toe die oorlogswolke in 1939 oor Engeland saamgepak het, het Pierre de Wet na Suid-Afrika teruggekeer.  En met sy terugkeer het sy groot stryd begin - 'n stryd wat in 1961 geëindig het toe hy sy laaste rolprent, En die vonke spat, voltooi het.  Aanvanklik het hy hom by André Huguenet se toneelgeselskap aangesluit. Die twee toneelspelers het mekaar egter kort-kort in die hare gevlieg. Huguenet was 'n outokraat wat geen teenspraak kon verduur nie, en De Wet 'n kunstenaar met sy eie koppige idees.  Hy het gevolglik sy eie toneelgeselskap gestig - en uit dié geselskap het sy eerste rolprent, Pikkie se erfenis (1945), ontstaan. In die onderhoud van 1984 sê De Wet dat dié rolprent, wat met so baie swaarkry en so min geld gemaak is, as die geboorte van die Afrikaanse rolprentbedryf beskou kan word. Pikkie het geesdriftige skares gelok, want vir die Afrikaners van daardie jare was dit wonderlik om 'n rolprent in hul eie taal te hoor.  Dié sukses het De Wet in staat gestel om die destydse mense met die geld te oortuig dat die Afrikaanse prent inderdaad 'n goeie belegging kan wees. 

Die miljoenêr I.W. Schlessinger, eienaar van die Killarney-ateljee in Johannesburg, is na 'n vertoning van Pikkie in Germiston se stadsaal genooi: ''U hoef nie na die rolprent te kyk nie: hou net die gehoor dop,'' het De Wet by die magnaat gepleit. Schlessinger het egter skepties gereageer. Maar hy het darem die hoof van die Killarney-ateljee, Joseph Albrecht, gestuur om die kat uit die boom te kyk. Albrecht kon as 'n Londenaar skaars 'n woord Afrikaans verstaan. Die Germiston-gehoor se reaksie was egter al wat nodig was om hom te laat besef: die Afrikaanse rolprent is 'n gans wat goue eiers gaan lê. Só het dit gebeur dat geld vir die eerste keer vir Afrikaanse rolprente beskikbaar gestel is. En Pierre de Wet is aangestel as die eerste beroepsvervaardiger van Afrikaanse rolprente. 



VIR 'n salaris van R140 per maand moes De Wet sy eie draaiboeke skryf, sy eie regie behartig, met die haglikste toerusting werk en boonop 'n rol in sy eie rolprente speel. Maar sy geesdrif het geen perke geken nie: nou het hy 'n regte ateljee gehad en kon hy vir die eerste keer doen wat hy wou. Sy stryd het egter pas begin, want om elke hoek en draai het teenstand en probleme op hom gewag. Uit Afrikanergeledere was daar die beswaar dat hy 'n 'inkruiper by volksvreemdes' geword het deur hom by die  Schlessinger-organisasie aan te sluit.  

Die preutsheid van sy Afrikaanse publiek het ook beteken dat die geringste kragwoord in 'n rolprent taboe was, en dat byvoorbeeld 'n toneel waarin 'n drankie gedrink of messe gebruik word, uit die bose was. Geen Afrikaanse skrywer wou hom gevolglik aan 'n draaiboek waag nie.  De Wet het die skrywer Sep Smit (skuilnaam van Johan van der Post) R500 vir 'n draaiboek aangebied, maar Smit het glad nie belanggestel nie. Hy kon £100 voorskot vir 'n gewone boek kry, en dan kon hy sy karakters boonop laat doen wat hy wil!  De Wet se eie draaiboeke, waarvoor sommiges later hul neuse sou optrek, was gevolglik sy enigste uitweg. Akteurs was ook 'n yslike probleem. Spelers moes sommer op straat aangekeer word, want daar was eenvoudig niemand met ervaring van rolprentwerk nie. Dié amateurspelers het bedags hul gewone beroepe beoefen en was slegs saans en naweke beskikbaar. Net Al Debbo kon in die week na die Killarney-ateljee kom. 

''Die Afrikaanse rolprentbedryf moes sy werk op Sondae, Paasmaandae en Goeie Vrydae doen,'' vertel De Wet in die onderhoud uit 1984. 
Geskille met sy 'volksvreemde' base het ook nie uitgebly nie. Dit was die tyd toe God Save the King ná elke rolprentvertoning voorgespeel is, en De Wet het geweet dat dit sy Afrikaanse publiek geweldig omkrap. Hy het Schlessinger daarop gewys dat dit goeie besigheidsin maak om hierdie gebruik by Afrikaanse rolprentvertonings te staak, maar sy baas wou niks weet nie.  Schlessinger was egter wél slim genoeg om te besef dat die 'volksvreemde' geld agter die Afrikaanse rolprent 'n bietjie verdoesel moes word. Sy maatskappy is gevolglik Die Afrikaanse Rolprentmaatskappy genoem en 'n Afrikaner, dr. Jan Pienaar, is in die  raad aangestel. Dr. Pienaar sou egter 'n nuwe doring in Pierre de Wet se vlees word ... 



Met die vervaardiging van Kom saam vanaand wou De Wet byvoorbeeld 'n ballet-toneel invoeg. Dr. Jan het egter 'n stokkie voor dié plan gesteek, met die argument dat 'manlike bioskoopgangers tot naby die doek sou aanskuif om onder die danseresse se rokke in te kyk'.  Die Londenaar Joseph Albrecht het sy eie stuiwer in die armbeurs probeer gooi. Hy was ontevrede omdat Afrikaanse karakters aandpakke in De Wet se rolprente dra, want 'aren't all Afrikaners diggers?' 

''Is genl. Smuts 'n delwer? Is dr. Malan 'n delwer? Dra genl. Smuts en dr. Malan baarde en veldskoene?'' wou De Wet weet, en uit pure verontwaardiging het hy bedank. 



DIT het baie soebat gekos om Pierre de Wet vir die Afrikaanse rolprentbedryf terug te wen. En 'n rolprent oor Afrikaanse delwers het hy nooit gemaak nie, al het daar later 'n draaiboek gereed gelê. In die onderhoud van 1984 sê De Wet: ''Dit is my vreugde om te weet dat ek my groot ideaal verwesenlik het.'' Niemand se lewe kan op 'n gelukkiger manier as dít tot 'n einde kom nie.

Bron: Aangepas van http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1990/06/29/3/9.html, 'n artikel in Beeld waarin Etienne Britz hulde bring aan diê legendariese rolprentregisseur, vervaardiger en skrywer

Tuesday, May 19, 2015

Seven Single euwels

VDS


Dan was daar die dierbare Oom Cyril. Sy Afrikaans was maar geraadbraak, en ons outjies uit die diep platteland met vrees vervul. Bon Ami was tog vreugde al die pad, solank die oom net nie met jou praat nie.

Al woord wat hy gebruik het was "Japie". Het iewers van "plaasjapies" gehoor! "Good morning Japies!" en ons moet antwoord maar weet nie hoe nie. Ai tog ...

Hy is een van 'n handjievol wat die Gote en Hunne in beide gevegte trotseer het en die ondersprit laat delf het. Soveel stories ...

Bon Ami was 'n tweede tuiste uit die koshuis en die Lugmagbasis. Bel met die tiekieboks, ry met die trein tot in Kuilsrivier en word soos 'n koning behandel.

Toe moet die nasie mos stem in 1960 of ons wil afstig van die Koninkryk. Oom Hendrik sweep ons op. Daardie aand voor stemdag sit die oom op 'n kampstoel voor Kuilsrivier se stadsaal. Die deure swaai oop sewe uur die volgende oggend, hy storm in en trek sy kruisie, "JA!!!" 

Sy verduideliking so eenvoudig, "ek kom van Wallis en wou nog altyd teen die Engelse gestem het!"

Maar niemand is onskuldig nie, oo nee! Toe Billy se tienerjare nader kruip, kom die 60's rock stars natuurlik ook Bon Ami binne. Billy speel dan dieselfde seven single luidrugtig oor en oor. Als kom tot 'n punt, skielik vlieg die oom op, pluk die naald van die plaat, ruk dit met een handbweging af en breek in vele stukkies!





Hardebaard en die skooldogter

Dorea


Die September-vakansie van die jaar waarin my ma 17 geword het, het sy saam met `n vriendin na hulle huis in Darling  gegaan. Vir `n paar dae was hulle ook see toe.

By die see het hulle vriende raakgeloop en die vriendin was skynbaar redelik kortaf met die een ou. My ma het vertel dat sy hom baie jammer gekry het. Terug op Darling het hulle hom weer raakgeloop, want hy was die hoefsmid/wa-maker op die dorp. Eers was dit net`n vakansie-romanse maar na die vakansie het daar `n paar  briewe gevolg en kort voor lank was dit `n regte romanse.
Ek  kan my indink wat Oupa en Ouma se gevoel oor die verhouding was. Dat daar seker  harde woorde ook was, kan `n mens glo, want my ma was 17 en my pa was 28! (En nog van die verkeerde politiek ook! Maar dit het ek baie jare later eers uitgevind, want daar was nooit politiek in ons huis gepraat nie.)

Van verder leer na matriek, wou my ma niks weet nie.Verpleging was die enigste opsie wat sy gehad het waar sy `n opleiding kon kry terwyl sy `n salaries verdien het.Sy kies toe om by Valkenburg te gaan werk, want daar kon sy drie pond per maand verdien, terwyl sy net twee pond by `n gewone hospital sou kry.

In September 1935, drie maande voordat sy haar finale eksamen sou skryf, is my pa en ma getroud. Van al Oupa en Ouma se slim kinders, was sy die enigste wat niks agter haar  naam kon skryf’ nie. Ek is seker dat sy later jare baie spyt was dat hulle nie maar gewag het totdat sy haar opleiding voltooi het nie, want sy het dikwels gevra of een of ander persoon darem ' `n bietjie geleerdheid’ het.
Om een of ander rede was daar geen troufoto geneem nie, maar Johan ken iemand wat na al die jare nog die kussinkie het waarop hulle gekniel het.

 My ma dikwels vertel hoe tannie Joey haar trourok gemaak het. Die materiaal was vreeslik duur, dit het tien sjielings gekos!  In die Kaap was daar daardie tyd `n baie  beroemde  kleremaakster  wat die materiaal sommer so teen mense gedrapeer het en dan  die rokke so teen hulle lywe gesny het sonder enige patroon en so het tannie Joey dan die rok gemaak! Dit moes vir haar`n baie mooi rok gewees het, want sy het dit `n paar maal vertel.


Ten spyte van hulle groot ouderdoms-verskil, was my ouers deur die jare steeds baie lief vir mekaar en ek glo nie daar kan baie gelukkiger huwelike wees as wat hulle s’n was nie.


Sunday, March 8, 2015

De Wet dinge

Nico


Miskien die snaakste was by die dood van ons ouma. Ouma het op sterwe gelê in die agterkamer van ons huis in Bellville. Ant Dora het vir Marian ( toe 2 jaar oud) gevra om nie lelik te praat. Sy het voor ouma gesê dat sy nie sal “kak” sal sê. 

Volgens my ma het ouma vir eerste keer in ʼn lang tyd lekker  gelag en is kort daarna oorlede. Vir my was haar dood ‘n  vreemde ervaring. Baie van ons neefs en niggies moes in ’n tou staan om die “grys” lyk met hande op die bors te groet in die agterkamer. Die volgende dag was Marian spoorloos. Na vele krisis soektogte kry hulle haar vêr in 12de laan met ’n tassie in die hand. Haar rede: ek is op pad na Liewe Jesus om ouma te gaan haal!

Ant Dora is links onder. Oom Pieter regs onder (sy seun was Pierre de Wet die bekende film maker.) Hy het die eerste Afrikaanse film gemaak, "Oumatjie." Oom Kosie is bo links, die skrywer van Jopie Fourie, waarvan ons almal waarskynlik kopieë het. 

Ouma is  middel agter en ek is nie seker maar dink langs haar is ons geliewe tannie wat in die konsentrasie kamp onderwyser was, tant Gerrie ( na wie tannie Baby vernoem is). 

Die vrou langs oom Pieter is sy vrou. Haar naam ontgaan my nou (Ria kan jy help?). Ant Hope was oom Kosie se vrou maar is nie op foto omdat hulle heelwat later getrou het. Ant Dora was dus ’n laat lammetjie. Hulle pa was Koos Tippelaar,  herbergier van Paddagang in Tulbagh. Ek verstaan nou vir die eerste keer my ma en tannie Marie se obsessies met paddas !


Nico

Saturday, March 7, 2015

“Andora”

Johan


Geen stel herinnerings is volledig sondat dat daar melding gemaak word van ant Dora nie – die laaste van die de Wets.  Die spelling hierbo is dié van ʼn niggie van ons, in haar baie prille jeug toe sy seker omtrent in haar 2de jaar op laerskool was.

Nou wat weet ek van ant Dora?  Oom John was ʼn posmeester in Rondebosch (as ek reg onthou).  Hulle het daarheen getrek uit Elliot in die Oos-Kaap; presies wanneer hulle getrek het weet ek nie, maar om een of ander rede dink ek dit moes gewees het in die 1930’s.  En hulle was maar altyd daar: eers ant Dora én oom John, en toe na oom John oorlede is ±1960, net ant Dora.  

Hulle “teenwoordigheid” ervaar ek self nog elke dag, hulle het toe my pa en my ma getrou het in 1938 as ʼn trougeskenk gegee ʼn lang bank waarvan die rugleuning kan sak en dan kan mens slaap daarop, en twee bypassende Morris-stoele.  Dáárdie einste 3 meubelstukke staan vandag nou hier in my sitkamer in die aftreeoord waar ek woon.  Amper 80 jaar oud.

Ant Dora was ʼn grande dame.  ʼn “Lady”.  Mens het so geleidelik uit haar praat agtergekom dat hulle baie aktief was in die kulturele aktiwiteite van die Afrikaanse gemeenskap in die Kaap – goed soos die Koffiehuiskonserte en so aan.  En seker ʼn snob ook, hoe dan nou anders?  Maar ek hou dit allermins teen haar, want wie van ons is nie?  

Daarmee saam was haar voete plat op die grond.  Sy het byvoorbeeld baie gehou van haar glas wyn, maar dan móés dit absoluut soet wyn gewees het.  Daardie jare het mens mos Riesling en Stein wit wyn gekry.  Sy moes ʼn glas Stein – of verkieslik Late Harvest – hê want die Riesling was “suur”.  Rooi wyn was pleinweg net “sleg”, en klaar gepraat. 

Een onvergeetlike aand was die aand toe almal gaan eet het die Sondag in die Lanzerac vir van der Spuy se 21ste.  Die Lanzerac het daardie tyd ʼn reuse buffet-ete gehad Sondagaande waarvoor jy maande voor die tyd moes bespreek.  Ons het toe ook almal gesorg dat Lanzerac se spyseniering nie veel van oorgebly het nie.  Maar toe almal uiteindelik loop, toe is ant Dora half weg in die donkerte.  Totdat iemand haar sien: sy staan toe by die slaweklok voor die hotel en sy is met mag en mening besig om die ketting daarvan te trek!

Soos dit ʼn grande dame betaam, het sy ʼn lekker streep ydelheid ook in haar gehad.  Niemand het amptelik geweet hoe oud sy was nie.  Ons het soort van vermoed een of ander tyd dat sy nou die 80 moes geslaan het.  Ook hardhorend, of voorgegee dat sy meer doof was as wat sy werklik was.  

Een Sondag by Diazstraat toe sit sy in die voorhuis en van ons is in oom Tossel se garage besig met iets.  En iemand noem haar naam.  Nou al wat ek kan dink is dat die klank moes uit die garage bo-oor die binnemure van die huis gegaan het deur die plafon.  Maar hoor het sy haar naam gehoor.  Want die volgende wat óns hoor was: “wat sê julle daar van my?”

En, voordat ek dít vergeet ... sy het baie gehou van ʼn skewe grappie.


Terug na die Huisblad



Friday, March 6, 2015

Vrede in Colesberg

VDS



Moet jou nou eers vêr terug neem. Honderd en vyftien jaar, Januarie 1900 toe die dom Ozzies die plek binne val en op hul neus geslaan word. Die ou wat toe orde moes handhaaf nadat hy die magistraat, posmeester en polisie sersant opgesluit het was Kommandant Hendrik Schoeman. Deesdae is Schoemansville en die Schoemanstraat na hom vernoem.

Ou Hendrik was ’n Majuba veteraan, maar nou al so krom getrek deur die jig dat hy nie meer op ‘n perd kon klim nie.

Die eerste wat hy doen is om al die bywoners in die oor te fluister, “As jy nou vir ons help, dan sal ons jou baas van die grond jaag en alles is joune!”

Amper nes Julius! Die Kaapse Rebel was dus hoofsaaklik ongeletterde handearbeiders. En mag jy vra, "en die Joiners noord van die Oranje?"

Wel toe die Khakis daar inval fluister hulle weer in die ore van sekere ouens, “If you help us, we will kick your boss out and all the land will yours!”

Dus lessie nommer een, die Joiner en die Rebel is een en dieselfde tipe!

Terug na Colesberg en oom Hendrik. Die ou vra toe 300 man en 200 perde aan deur middel van die draadberig. "Tik-tiiik-tik" alles in Hoog Hollandse Morse kode. Op elke dorp deur die OVS luister die posmeester na die getik, ontsyfer en skryf neer en tik weer na die volgende ou. Teen die tyd dat dit Oom Paul bereik was dit 30 man en 20 perde!

Sien, die posmeesters het weer gehoor dat hul ewekniee suid van die Oranje baie meer verdien en korter ure werk, hulle was dus Engels gesind en het die boodskap heerlik verdraai. 

Wat het verander na vandag toe? Niks nie, ai tog!

Die lieflike Colesberg herineringe. Die groot huis en sy stoepe en stories maak. Om ons te verluister aan daardie skaars soort, die Afrikaner entrepeneur eienaar van Bosman/Boshof en kie. Wat kap timmer en soldeer en dinge bou. Net ‘n Bloedsap sal dit kan doen!


En en skuins oorkant …  rye en rye grafte van bogenoemde Ozzies  ... later werk ek in Brisbane in daardie vervelige land en kry ‘n groot monument wat Coleskop herdenk.

Ma en ek kom kuier met die Ford 20m, al ‘n lisensie gehad en gaan oor Aliwal toe vir ‘n warm swem. Braaityd en Tannie Baby dring net een ding en dis onverhandelbaar: Lion Export Ale!

Tannie Baby werk na die oom se dood in die hotel en bly skuins oorkant die kerk op die suidpunt van die hoofstraat. ‘n Lieflike halfweg stasie!


Vir laas slaap ons oor, toe in ‘n gastehuis Januarie 2000, presies een honderd jaar later en stap weer na die grafte … jammer die Ozzie nageslag kon nie saam wees nie ...


Terug na die Huisblad



Thursday, March 5, 2015

Tant Meraai van die Sandveld

Johan

Gemerk snLHier is nou ʼn klompie hoogs persoonlike en onbetroubare herinnerings van ons Ouma.  Ek waarsku ook sensitiewe lesers dat ek van sterk taal gebruik maak, en mense wat fynbesnaard is moet dalk nie verder lees nie?



Die artikels in die BURGER het haar beskryf as bonkig en knorrig.  Bonkig was sy beslis, en oor die knorrig sal ek my nou nie verder uitlaat nie.  Maar sy was ʼn formidabele vrou dit is baie seker.  Dit is sy wat besluit het hulle moet weg van Tzaarskuil en die Sandveld af na Stellenbosch toe sodat haar kinders ʼn beter toekoms kon hê.  Oupa het geen grond besit waar hulle gebly het nie en hulle het van skoolhou en konstruksiewerkwerk doen op ander mense se plase ʼn bestaan gemaak.

Vir oupa Daan onthou ek bitter sleg.  Ek het net een herinnering van hom.  Daar êrens in 1944 of 1945 was ons op Stellenbosch en ek en Matsie het Andringastraat gevat en geloop na die winkel toe waar hy gewerk het.  Was dit ʼn groentewinkel?  My geheue sê vir my so …  Ek het hom toe daar gesien agter die toonbank, en hy het lekker met sy twee kleinkinders gesels wat by hom kom kuier het; dalk nog vir ons elkeen ʼn lekkertjie in die hand gestop.  So oor die 70 jaar wat verloop het heen sien ek hom nou nog as ʼn baie oulike en gawe oupa.  Sien julle vandag twee kleuters alleen van Merrimanlaan af loop op met Andringastraat saam tot in die middel van die dorp?

Ek sou ook raai dat Ouma die broek gedra het in die huis dalk, soos die ou Afrikaanse uitdrukking gaan.

Soos van der Spuy ook genoem het: een keer per jaar het sy die trein gevat in die wintermaande en dan seker so ʼn maand by ons kom bly, en ook in Colesberg, en dan het sy ʼn hele ruk in Pretoria gebly.  En sy het haar “favourites” gehad hoor.  Enige kleinkind wat vernoem was na oupa Daan het meer aandag by haar gekry.  Broer Danie was “Ouma se ou dun nekkie” gewees.  As jou naam Daan/Daniël/Danie was, dan was die saak reg!

Sy en haar skoonseuns: as sy by ons gekuier het het sy lank en breed gesels.  Oor alles, en natuulik het sy ook vertel van die doen en late van haar ander skoonseuns.  Altyd in bewonderende terme.  Dit was “Tossel” en “Johann” en “Carl” voor en agter.  Ek self het gesien hoe oom Johann haar terg en hoe sy dit geniet.  Sy het so ʼn uit-die-maag lag gehad, “giieeee-giiieeee-gie”.  

Wanneer sy daar aankom op pad terug van Pretoria af het sy natuurlik baie stories gehad oor die Hattinghs.  En ek onthou hoe sy een keer gepraat het oor oom Carl, en toe sê sy, “Maar oor sy ondervindings in die oorlog, daaroor praat hy nooit niks.  Nooit … niks.”

My pa was om een of ander rede nie haar “favourite” skoonseun nie.  Dit is snaaks hoe selfs jong kinders ʼn “vibe” kan optel.  En tussen Ouma en my pa was daar ʼn negatiewe “vibe” wat ek al klein-klein bewus van was wat moes terug strek tot voor ons geboortes; dalk nog tot voor my pa en my ma se troue in 1938.  My pa het hard geprobeer om dinge te normaliseer.  Maar as hy ʼn grappie maak met haar dan kry hy ʼn skewe kyk; anders as by oom Johann.  

Wat dinge vererger het was die insident met Danie en Marie se geboorte.  Dit was in 1945 en dinge was ontwrig weens die oorlog.  Toe die twee gebore is toe gaan my pa na die poskantoor in Indwe en stuur telegramme aan almal om die aankoms van die tweeling aan te kondig.  En soos die duiwel dit wou hê: Ouma het nie haar telegram gekry nie.  En sy het tot haar dood vas geglo dat my pa opsetlik was en nie vir haar laat weet het nie.  

Hy het op ʼn stadium na die poskantoor toe gegaan en een of ander skriftelike bewys gekry dat daar wel ʼn telegram afgestuur is na haar.  Sy het dit pleinweg net nie geglo nie.  Selfs die feit dat die tweeling na haar en haar man vernoem is het niks gehelp nie.  By die “knorrigheid” dink ek het sy dalk ook ʼn skoot “koppigheid” ook gehad?

Ek self was die oorsaak van nog ‘n verdere afbreek in hulle verhouding: my pa het een keer gegaan na die Kaap vir ʼn sinodesitting en hy het my saamgevat.  Ek weet nie hoe oud ek toe was nie.  Seker maar 3 jaar of daar rond.  Nou ry ons 2 dae met die trein van Ida af tot in Stellenbosch. Ek bly die hele dag alleen by Ouma, en my pa gaan met die trein vir die Sinode.  Agterna het hulle gesê die hele ding was ʼn fout want ek was onmoontlik stout gewees.  

Ek wou nie die hele dag alleen gelaat gewees het met die vreemde ouma nie.  Dan kom my pa die aand by die huis, en dan vertel Ouma in detail wat ek alles gedoen het en al my “tantrums” en so en sy eis dan dat hy my ʼn pak gee.  Wat hy nie wou doen nie, heel tereg ook.  En dan het Ouma haar kop geskud en vir my pa gesê, “Eli, Eli …..”  Nou ek kan goed glo dat daardie ge-“Eli, Eli …..” elke aand vir hom synde ʼn predikant mateloos moes ge-irriteer het.


Sy is oorlede in 1957.  Toe sy nou naby die einde was toe kom Tannie Marie en Ria en Hannes van Pretoria af.  Nou lê Ouma daar en sy roep vir Marian.  En sy sê vir haar: “Ria en Hannes kom by ons bly van Pretoria af.  En hulle is baie soet kinders.  Jy moet jou nou mooi gedra by hulle”.   En Marian sê, “Nee, ouma, ek sal baie soet wees.  Ek sal nie kak sê by hulle nie”.  

Tannie Etha vertel agterna nog hoe Ouma met haar swaar lyf en met haar maag deurtrek van die kanker geskud het van die lag.  Vir oulaas was dit toe, “giieeee-giiieeee-gie” gewees.  

Terug na die Huisblad




Wednesday, March 4, 2015

En toe was daar Ouma ...

VDS

Was maar vyf jaar oud en dan is 'n ou maar lugtig vir vreemde dinge ...

Vanwyksvlei was ver en woes geleë, amptelik met die warmste (plus 45 grade) en die koudste (-11 grade) die verste uitmekaar en dus die onaangenaamste plek in ons mooi land!

Wat ons dierbare ouers besiel het om uit die mooie Oos-Kaap na die uithoek te kom sal niemand weet nie.

Die lewe was rustig en as al outjie wat nie hoef skool toe te gaan nie was die oggende myne om te misbruik soos ek wil.

Toe gebeur dit! Hou jou hart vas. Die na nege uur die aand hooflyn oproepe na ons nommer 4. 

"Tring ... tring ...tring ... " sommer 15 keer om almal op loop te jaag. Net mooi die tyd wat die dorp se krag afgesit is. Beurtkrag? Asseblief tog, dis wat ons geken het teen 'n halfkroon 'n kilowatt uur moes koop. Werk uit hoeveel derduisende dit vandag sou wees?

Die spanning loop op, my pa was die Studebaker en maak reg vir die lang reis, eers tagtig kilometer tot Carnarvon, dan nog so 120 tot Victoria Wes en dan nog 20 na Hutchinson stasie. Als sinkplaatpad. Dan met die vooruitsig om alles weer terug aan te durf. Gelukkig op die halfweg stasie was die skoolhoof oom Kerneels Brink en 'n neef net waar jy hom nodig het.

Daardie oggend so tien uur toe stoom sy in, die klas 25C suis die stasie binne en my arme pa staan daar hoed in die hand en wag bang vir … sy skoonma!

Terug by die huis was die leviete voorgelees. Ounooi het alles blink skoon gemaak en die spaarkamer is perfek met die deure toe om die katte uit te hou.

Ouma was important en met die eerste middag ete kondig sy aan, "Ek was by meneer Avenant by die hotel, meneer Alston by sy winkel en sersant Dawson by die polisie. Vanmiddag besoek ek meneer Hauman en sal met hom ook 'n toer van die skool onderneem.”

Op vyf jaar bly jy net stil en wonder …




NS Ounooi Solomon leef nog en ons het haar besoek en voor in my Jaguar gelaai en sy het soos die Queen vir almal gewaai!

Terug na die Huisblad

Kommunikasie oor die taalgrens

Johan


Toe oom Cyril met tannie Dora getrou het het Ouma gepraat van die, “Rou Engelsman”.  

Oom Cyril het oor die tyd ʼn klein Afrikaanse woordeskat opgebou wat hy nie dikwels gebruik het nie.  Een keer het ons almal daar ook geëet op ʼn Sondag.  Ek dink nie van Zyl en van der Spuy was toe al op skool nie.  Van Zyl se babanaam daardie tyd was mos, “Kokkie”.

Toe ons klaar was, toe help oom Cyril die leë borde opruim en hy wou van Zyl sʼn toe ook by hom neem.  Toe sê hy vir hom, “Kakkie, gee my jou plate.”

Daardie laaste woord uitgespreek op die Afrikaans, om te rym met, “gate.”


Van ons kinders se kant het ons ons beste laerskool-Engels uitgehaal om met die oom te gesels.  Op ʼn keer was Nico en Billy aanmekaar, en Nico hardloop vir Billy weg, verby oom Cyril wat sy koerant sit en lees.  Nico probeer oom Cyril kry om hom te help, en hy roep, “Uncle Cyril, Billy won’t lost me!”

Oom Cyril het so oor die koerant geloer, en vir Nico die volgende advies gegee: “dôônner him.”


Terug na die Huisblad


Die ou bleddie Sap

Johan


Dit is Desembermaand van die jaar 1968.  Dorea en Acker trou op Colesberg een Sondag na kerk.  Nou is ek daar vir die geleentheid en my pa, en ek weet nie wie nog van my broers nie.  My ma en die res van die familie het by die huis agtergebly op VanWyksvlei.

Sover ek onthou het ons seker die Vrydag daar aangekom en ons het almal in oom Johan en tannie Baby se huis gebly naby die bopunt van die dorp.  Dié huis het soos baie van die huise daardie tyd ʼn lekker stoep gehad wat om drie kante van die huis gegaan het.

Acker se pa was ʼn LV gewees.  Een van die 6 LV’s uit Suidwes wat in die parlement gesit het, en daardie LV’s uit Suidwes was almal Nasionaliste.  Oom Johan het natuurlik dit geweet; maar was oom von Moltke níé geweet het nie, was dat oom Johan ʼn Sap was.

Nou toe ons op Colesberg aankom, toe sit die twee ooms op die stoep en gesels.  En het hulle nie gesels nie: lank en breed en afgemete het hulle baie onderwerpe opgehaal en aangeraak en deurgetrap, soos die mense van hulle generasie mos graag gedoen het.  Ek sit maar op ʼn ander stoel so ʼn ent van hulle af met ʼn boek en mens kan nou nie help om te hoor waaroor al die geselsery gaan nie.

Naderhand was dit aand, en almal gaan eet en gaan slaap, maar die Saterdagoggend was dit weer so.  Hulle praat oor kerk, en oor boerdery, en oor die land se politiek, en albei haal aan uit hulle ryke ervaring uit ʼn verlede wat ʼn klomp jare terug gaan.  Sover ek onthou het oom Johan teen die laat middag homself verfris met ʼn whisky.  Wat oom von Moltke geniet het weet ek nie meer nie.

Nou hier teen die late (soos die mense daar mos praat) die Saterdag los oom Johan toe die bom, “Ek sou nooit dit gedink het dat ʼn dogter van my sou trou met die seun van ʼn Nasionalis nie!”

En oom von Moltke het net ʼn halwe sekonde nodig gehad toe val die pennie by hom, “My magtag!  Jy wil nie nou vir my sê jy is ʼn ou bleddie Sap nie!”  

Toe dag ek nóú is die vet in die vuur.  Maar snaaks genoeg, toe die feite ingesink het, het nie een van die twee weer daarna verwys nie, en het hulle doodrustig verder aangegaan met hulle gesprek.


En die volgende dag het my pa in eenstemmigheid vir Dorea en Acker bevestig.



Terug na die Huisblad

Tuesday, March 3, 2015

Ouma vattie k$%^kkie!


Mariet



'n Uittreksel uit 'n artikel in Die Burger oor Tzaarskuil en ander plaaskole. 

"Juffrou de Wet trek los met klappe teen die kop, hare pluk en ore trek!!"











Terug na die Huisblad

Monday, March 2, 2015

Fotos die derde stel

Van Zyl









Terug na die Huisblad

Die Citroën in die middel van die nag. Episode 2

Johan


Dit moes gewees het êrens by 1972 daar rond.  Dit is die Donderdag voor die Paasnaweek, en ek en van der Spuy en van Zyl en Danie [dink ek] was op pad na van Wyksvlei vir die Paasvakansie.  In my Volkswager Kewer.

Dit is donkermaan, en dit is nou al baie diep in die nag dat ons die grondpad vat van Brandvlei af.  Nou daar in die middel van nêrens gaan ons op ʼn stadium oor ʼn motorhek, en net daarna voel ek maar nou is daar een van die bande pap.  Ons stop en begin die hele proses van wiel omruil in die stikdonkerte.

Terwyl ons nou so besig is, toe hoor ons ʼn kar aankom van Brandvlei se kant af.  “Aankom” het egter iets anders beteken hierdie keer: mens hoor die gewone geluide van ʼn kar op ʼn grondpad, en later kan jy die ligte sien skyn deur die stofwolke.  Maar daarmee saam was daar ook ʼn onaardse geklater wat baie harder was as die kar se masjien se gedreun.

Die kar is toe op die ou end by ons.  Dit gaan ook oor die motorhek en toe die bestuurder ons sien, toe stop hy.  Die kar?  Een van die strykyster-Citroëns – die soort wat jy die panele kom afskroef en dan nuwe panele kon aanskroef as jy die kar gestamp het.  En die bestuurder?  Niemand anders nie as ons neef Daan.  Op pad na die skoonmense op hulle plaas in die Brandvlei-distrik.  Die geklater was toe niks anders nie as die Citroën se los “body panels” wat nie bestand was teen die ongelyke sinkplaatpad nie.


Daar gesels ons toe ʼn ruk oor dit en oor dat, en toe sê Daan; "ons moet hoem nou verskoon dat ek nou verder aanstoot."

Want hy weet nie hoeveel afvalle en skaapkoppe en skaapboude en alles nog vir hom wag daar by die skoonmense op die plaas nie!


Terug na die Huisblad







Friday, February 27, 2015

Ria se fotos



Oom Carl en tannie Marie


Ria en Nico!


Ria en Marie


Onbekendes, help asseblief





Terug na die Huisblad