Johan
Dit moes gewees het êrens by 1972 daar rond. Dit is die Donderdag voor die Paasnaweek, en
ek en van der Spuy en van Zyl en Danie [dink ek] was op pad na van Wyksvlei vir
die Paasvakansie. In my Volkswager
Kewer.
Dit is donkermaan, en dit is nou al baie diep in die nag dat
ons die grondpad vat van Brandvlei af.
Nou daar in die middel van nêrens gaan ons op ʼn stadium oor ʼn motorhek,
en net daarna voel ek maar nou is daar een van die bande pap. Ons stop en begin die hele proses van wiel
omruil in die stikdonkerte.
Terwyl ons nou so besig is, toe hoor ons ʼn kar aankom van
Brandvlei se kant af. “Aankom” het egter
iets anders beteken hierdie keer: mens hoor die gewone geluide van ʼn kar op ʼn
grondpad, en later kan jy die ligte sien skyn deur die stofwolke. Maar daarmee saam was daar ook ʼn onaardse
geklater wat baie harder was as die kar se masjien se gedreun.
Die kar is toe op die ou end by ons. Dit gaan ook oor die motorhek en toe die
bestuurder ons sien, toe stop hy. Die
kar? Een van die strykyster-Citroëns –
die soort wat jy die panele kom afskroef en dan nuwe panele kon aanskroef as jy
die kar gestamp het. En die bestuurder? Niemand anders nie as ons neef Daan. Op pad na die skoonmense op hulle plaas in
die Brandvlei-distrik. Die geklater was
toe niks anders nie as die Citroën se los “body panels” wat nie bestand was
teen die ongelyke sinkplaatpad nie.
Daar gesels ons toe ʼn ruk oor dit en oor dat, en toe sê Daan; "ons moet hoem nou verskoon dat ek nou verder aanstoot."
Want hy weet nie hoeveel afvalle en
skaapkoppe en skaapboude en alles nog vir hom wag daar by die skoonmense op die
plaas nie!
Terug na die Huisblad
Terug na die Huisblad
No comments:
Post a Comment