Danie
Hier in die middel van die
1960's ry tannie Suster en tannie Etha al die pad Vanwyksvlei toe met die blou Peugeot bakkie.
Daar was 'n padverlegging en
hulle land per ongeluk in Ceres. Hulle ry toe maar met die Ceres – Karoo pad
tot in Calvinia (sinkplaat en stof). Van Calvinia tot in Williston weer
teerpad, maar in plaas van aanhou tot in Carnarvon, draai hulle 'n paar myl buite
Williston af want daar was 'n aanwyser wat die pad na Vanwyksvlei aangewys het.
Die pad loop van plaas tot plaas met hekke vir omtrent 120 myl. Die twee tantes
was gaar en gedaan toe hulle uiteindelik op Vanwyksvlei kom!
Ek was een van diegene wat militêre diens in Pretoria gedoen
het. Sommer die eerste Sondag het die Hattinghs kom kuier. Na 2 – 3 maande het
ons naweek pas gekry. (Saterdagmiddag tot Sondagaand.) Ek het gereeld na
Tannie Marie en oom Carl gegaan. Tannie Marie het feesmaaltye berei en nog my
klere ook gewas. As ek 'n “pas-naweek” oorgeslaan het, moes ek die volgende keer
verduidelik hoekom en waarom en sal nie weer nie.
Acker en Dorea se troue, die
aand voor die troue vra iemand vir Acker of hy darem gereed is vir die groot
sprong. Sy antwoord was, "Ja, ek het my kar geghries en my skoene versool!"
Die
oggend in die kerk, kniel die paartjie voor die kansel. En so wragtag, die
mooiste paar blou skoensole wat jy en nog ooit gesien het!
Die vier Brink-broers ry een nag op die pad tussen Brandvlei
en Vanwyksvlei. Maanloos. Doodstil. Miljarde sterre. Maar ons kry 'n papwiel.
Terwyl ons rustig die wiel omruil, hoor ons 'n gedruis en gekletter wat al
harder word. Toe die ligte verskyn, besef ons dis 'n motor. Die kar ry tot by
ons en stop met 'n gesissss ... net 'n Citroen kan dit regkry!
Die bestuurder was Boet Ferreira wat
sommer 'n bietjie gesels ook.
Na 'n tyd sê hy, “julle moet my nou maar verskoon, want dis nog 'n entjie na
skoonmense se plaas. Daar is nog hoeveel afvalle en skaapkoppe wat ek moet
opeet voor sonop.”
Terug na die Huisblad
Terug na die Huisblad
No comments:
Post a Comment